Saterdag 25 Februarie 2017

Daar's 'n kriek onder my bed... maar sjuus... moet vir niemand sê nie!


  Elke aand as dit slaaptyd is en ek het klaar my tande geborsel dan spring ek gou in die bed, want dan is dit storietyd! My ma lees elke aand vir my 'n storie of sommer drie as ek mooi vra. En dan as sy wil gaan, dan sê ek dat ek nog nie moeg is nie, of ek sê ek is honger of dalk dors. Dan sug my ma so sug en dan bring sy vir my dalk 'n bietjie heuning of dalk 'n glas water en dan terwyl ek so vinnig ek kan eet of my water drink – vinnig? mwhahaha! – dan is daar mos tyd vir nog 'n storie! 

  Oe, ek is baie lief vir stories hoor! Net so nou en dan as ek te veel aanhou vra, dan waarsku my ma:"Jannemaaaan...". Dan sê ek maar net : "Mamma moet ook lekker slaap hoor!", en dan begin ek solank uitsien na môre aand se stories!

  Maar ek het 'n geheim. Julle moet nou saggies luister hoor! As my lig af is en ek hoor mamma se skoene maak so tjiek-tjakke daar aan die einde van die gang, dan kom kuier 'n kriek vir my! Ja regtig! Sy naam is ook Janneman en hy bly onder my bed. Dis moeilik om te glo ek weet. Ek bedoel wat is die kans dat sy naam óok Janneman is! Fantasties né?

  Janneman luister altyd saam na my ma se stories. Hy sit tjoepstil daar onder. Gisteraand het my ma 'n snaakse storie gelees en toe kon ou Janneman nie sy lag hou nie. My ma kyk my snaaks aan, gaan uit die kamer uit en kom terug met 'n bottel medisyne. Sy sê toe my stem klink nie reg nie, ek beter oppas vir verkoue. Sjoe, dit was amper!

  Janneman het gesê ek moenie vir my ma vertel van hom nie want hy dink nie ma's hou van krieke nie. Ek dink hy is verkeerd, maar dit is eintlik nogal lekker om 'n klein geheim te hê. Ek vertel my ma eintlik alles, so ek sal haar nog van Janneman ook vertel. Maar ek gee Janneman nog so paar dae kans dat hy net kan sien my ma gaan hom sommer oor 'n honderd like!

  Janneman het eergister saam met my skooltoe ook gegaan, maar hy was baie verveeld. Hy sê die sangklas was lekker en die pouse, maar hy het niks van wiskunde gehou nie. Ek probeer hom nou sy tafels leer, dan is ek seker hy gaan van wiskunde begin hou. Janneman is nie so seker nie...

(Drie dae later)

  Gisteraand toe my ma wou begin storie lees, het ek haar eers vertel van Janneman. Sy het eers gedink my verbeelding is weer in 'overdrive', maar toe roep ek vir Janneman. Eers wou hy nie kom nie. Toe het hy met die bed se poot tot bo geklim en vir my ma gewaai! Ek dog my ma se kakebeen gaan op my kussing land. Sy was so verbaas. Ek het haar als vertel en nou mag Janneman op my kussing sit elke aand as ons saam stories luister.


  Elke aand is dit die twee Jannemans wat wag vir die stories. Kyk ons foto hier onder. Hy eet saam met my heuning en hy is ook nooit moeg genoeg om te gaan slaap nie, nes ek! Dis net onregverdig dat hy dan nooit sy tande hoef te borsel nie! En o ja, Janneman begin nou sy tafels ken: koffietafel, eetkamertafel en sy gunsteling, die kombuistafel...

Die twee Jannemans wag vir hulle storie!

Donderdag 23 Februarie 2017

Marcia se talent



  Marcia was in Graad 6 in 'n baie groot skool in Johannesburg. Haar skool se naam was Laerskool Gelderblom en het 5 Graad 6 klasse gehad. Marcia het gedink niemand weet seker eers wie sy is nie, al was sy nou al 6 maande in haar nuwe skool. Haar ou skool was op 'n klein dorpie in die platteland en daar was maar 200 kinders in die hele skool, van graad 1 tot graad 7!

  Marcia was 'n vriendelike meisie en het goed oor die weg gekom met almal in haar klas en die onderwysers het ook van haar gehou. Dit het ook baie goed gegaan met haar skoolwerk en sy het koor gesing en tennis begin speel, maar sy was seker niemand weet eers wat haar naam is nie.
Dis nie dat sy so vreeslik bekend wou wees nie, maar sy het nie regtig tuis gevoel in Laerskool Gelderblom nie en sy het gereken dis deels omdat sy so min van die kinders ken en natuurlik omdat hulle haar ook nie ken nie.

  Op 'n dag sê die Afrikaans meneer dat hy vir hulle 'n verassing het. Die hele klas sit die meneer en aankyk, maar hy sê niks nie. Na twee minute se stilte sê die hele klas omtrent gelyk:"Meneer!" Hy lag net so bietjie en toe begin hy vertel. Die skool sou hierdie kwartaal 'n talent kompetisie hou. Enige een kon deelneem. Jy kan sing of dans of 'n besem op jou neus balanseer of wat ook al jou talent is.
Onmiddellik begin die klas rumoer en dit gesels te lekker soos almal hardop dink en vir mekaar vertel wat hul gaan doen vir die kompetisie. Marcia sit ook en dink. Ai, as sy die kompetisie kan wen, dan sal haar klas seker darem almal weet wie sy is en dalk sal sy dan nie meer soos die 'nuwe meisie' voel nie. Maar wat kon sy doen? Wat is tog haar talent?

  Die meneer het vir hulle vertel dat die wenner 'n dag vakansie kon neem en ook R250 se snoepie koopbewyse wen. Sjoe, daarmee kon mens seker omtrent al die snoepie se sweets koop, het Marcia gedink. Maar, dan moes sy nou eers 'n plan maak om 'n talent op te spoor en dan moet sy net wen. Maklik mos!

  Marcia het besluit om haar ouers en haar broer en suster te vra wat hulle dink haar talent is. Haar ma het gereken sy is baie vriendelik en behulpsaam. Marcia het gewonder hoe sy nou sulke talente op 'n verhoog sou kon wys? Nee wat, dit gaan nie werk nie. Volgende het haar pa gesê dat sy vir die kinders kan wys hoe vinnig sy kan tel of dalk moes sy haar asem ophou vir 5 minute! Nee wat, dit gaan ook nie werk nie, het sy gedink. Haar broer het weer gedink sy moes dalk nie deelneem nie want sy gaan tog te skaam wees daar op die verhoog. Haar ma het gesê sy moenie na hom luister nie, sy moet net die regte talent kry dan sal sy nie skaam wees nie.

  Laaste aan die beurt was haar ouer suster Janie. Janie was al op universiteit en sy het altyd goeie planne gehad, of so het Marcia gedink.

"Wat dink jy kan ek doen vir die talent kompetisie Janie? Ek wil so graag wen!"

"Mmmm, laat ek so bietjie dink. Ek dink...., ek dink..... wag, ek het dit. Jy moet een van jou snaakse stories vertel!"

"Maar dis nie 'n talent nie, of is dit?"

"Maar natuurlik is dit! Jy kan 'n komediant word soos Trevor Noah. Jy vertel dan altyd sulke snaakse stories."

"Ek het dan nie eers geweet dis my talent nie..."

  Marcia is sommer baie in haar skik met hierdie idee. Sy het sommer dadelik begin dink aan nog stories, alhoewel sy nog 'n hele paar gereed gehad het wat sy nog nooit by die nuwe skool vir enige iemand vertel het nie.

  Die dag van die talent kompetisie het aangebreek en Marcia was maar bietjie senuweeagtig, maar toe sy eers begin praat en die kinders en selfs die onderwysers lag tog te lekker, toe het al die senuwees sommer verdwyn. Marcia het toe nie gewen nie, maar sy het soveel pret gehad! En, tot haar verbasing het die kinders in haar klas toe in elk geval haar leer ken en sy vir hulle. Sy was so gelukkig. En nou het sy boonop 'n talent gehad en sy kon met hartelus verder aan haar talent werk. Die kinders by die skool het natuurlik glad nie omgegee as sy haar talent op hulle oefen nie!


Woensdag 22 Februarie 2017

Ruan en die Maantuig


  Dit was kwart oor ses in die aand en Ruan moes eintlik al klaar gewees het met sy huiswerk, maar hy het nog nie eers begin nie! Hy het gereken hy sou dalk in die moeilikheid wees die volgende dag by ou meneer Jansen, maar wat. Hoe dikwels kry mens nou die kans om maan toe te gaan?!

  Woensdag oggend was als nog normaal, as mens dit so kan noem. Ruan het soos gewoonlik sy pap voor die TV sit en eet, sy sussie was besig met haar hare en ma en pa het ook nog iewers in die huis rondgeskarrel om verlore brille te soek en te reel wie moet nou vir wie wanneer oplaai en aflaai vir die dag. Langs Ruan op die bank was ou Geles die kat. Geles was soos ‘n regte kat betaam maar redelik min gespin oor al die vroeg-oggend warboel in die Havenga huis. Min het Ruan toe geweet hoe avontuurlik hierdie Woensdag sou uitdraai!

  Dinge by die skool het ook maar redelik normaal verloop vir ‘n Woensdag. Wiskunde, Afrikaans en NWT. Toe darem eers pouse. Engels, SW, nog ‘n pouse en laastens was dit uiteindelik Lewensorientering. Ruan moes studie sit en daarna het hy soos gewoonlik gaan hokkie oefen. Hy speel in die Graad 7 A span en hoop om vanjaar weer vir die Vrystaat gekies te word. Ruan kon nie al sy huiswerk in studie klaarkry nie en het geweet die Wiskunde en voorbereiding vir more se mondeling sou nog vir hom wag as hy by die huis kom. 

  Ruan se pa het hom soos gewoonlik net na die hokkie kom oplaai en toe is hul huistoe. Nou hier is waar dinge so bietjie anders begin loop. Hul stop eers by Spar. Dis eintlik heel normaal, maar wat snaaks was of eienaardig ten minste, was dat hulle die enigste mense daar was! Behalwe vir een vrou wat die kasregister beman het, of is dit nou bevrou het? Gewoonik hierdie tyd van die dag is die Spar baie besig! Wat was aan die gang? Voor by die kasregister kan Ruan sy nuuskierigheid nie meer hou nie.

"Askuus tannie, maar hoekom is dit dan so stil hier vandag?"

"Nee jong, 5 minute gelede was die winkel nog stampvol. Toe storm hier 'n ou in met sulke deurmekaar hare. Hy was nogal aantreklik... maar anyhow, toe storm hy hier by die winkel in en begin iets mompel van 'n skip by die robot. Ek het nie verder geluister nie want my volgende customer was hier en anyhow hoe kry jy nou 'n skip in die middel van die Vrystaat? Hahaha! Verbeel jou!!"

"Maar wat het toe van al die mense geword tannie?"

"O ja, toe ek weer opkyk is die winkel leeg. Selfs ou Jenna hier by die till langs my was ook sommer gone."

  Ruan was nou eers nuuskierig. Wie kon hierdie man met die deurmekaar hare wees? En hoe het dit veroorsaak dat almal nou weg is uit die winkel? Ruan het gesien sy pa was heel rustig oor die saak. Eintlik kon hy raai sy pa sou dalk nog nie eers agtergekom het hul is alleen in die winkel nie. Dink seker weer aan werk en allerande goed. So hierdie misterie sou hy maar self aanpak en hopelik oplos.
Oppad huistoe het Ruan hard gedink oor die vreemde affere. En toe tref dit hom.

"Natuurlik! Dis die enigste opsie. 'n Ruimteskip! Dis tog al skip wat in die Vrystaat kan kom en dit verklaar waar al die mense is! Hul is natuurlik deur die ruimteskip opgesuig of iets! Wat dink jy pa? Dit is tog al wat sin maak, of hoe?"

"Wat nou van 'n ruimteskip? Is dit vir jou mondeling van more? Moet jy weer karton skool toe vat?"

"Huh? O, nee, ek praat van die mense wat weg was in die winkel. En die skip.... uhmmm, ja, dis my mondeling van more."

  Ruan het hom bedink en gereken hy moes hierdie teorie van hom nou eers self verder op die proef stel en dan as hy sy feite in 'n lyn het dan sal hy sy pa vertel.

  By die huis gekom was die ruimteskip al waaraan hy kon dink. 'Hoe cool sou dit nie wees om maan toe te kan gaan nie! Dis nou as hierdie ouens ooit van die maan is. Dalk is hulle van Jupiter of dalk is  hul glad nie eers van ons sterrestelsel nie! Dis alles net te fantasties. Hulle sal darem seker vriendelik wees want watter wesens met sulke ongelooflike gevorderde breinkrag om ruimteskepe te bou sal nog so dom wees om onvriendelik te wees? Ja-aag wat, hulle sal vriendelik wees. En dink nou net as ek kan saamgaan!'

  Toe begin Ruan besef dat as hy wil saamgaan sal die Maan-manne darem seker net eers van hom moet weet. 'Dis seker hoekom die man met die deurmekaar hare in die winkel ingestorm het. Hy het seker vir hulle kom sê om saam te kom! Ek sal 'n plan moet maak dat hulle van my weet en dat hul kan sien dat ek ook vriendelik is en natuurlik ook met gevorderde breinkrag. Ek moet hul laat weet dat ek wil saamgaan.'

  Ruan werk toe 'n plan uit. Hy dra die groot luidspreker van die Hi-fi uit buitentoe. Toe vind hy gelukkig die mikrofoon in 'n laai en haas na buite om sy aankondiging te maak.

"Hallo wesens van die ruimte. Ek is Ruan Havenga en ek wil jul net laat weet dat ek regtig 'n vriendelike ou is en as jul dit goeddink, dan sal ek ook wil saamgaan in jul skip. Ek wil natuurlik weer terugkom, maar sal bitter graag wil sien hoe lyk Jupiter!"

  Ruan se pa en ma en sy sussie is soos blits uit die huis en kyk verbaas na Ruan.

"Wat is aan die gang seun? Is dit vir jou mondeling van more?"

  Ruan verduidelik toe maar sy hele teorie aan die drie wat daar staan met sulke breë glimlagte op hul gesigte. Soos hy verduidelik word die glimlagte net breër. Ruan kon nie glo dat hul nie sy teorie met ope arms omhels nie. Dis tog duidelik!

  Die ergste is, toe Ruan die volgende dag vir Mnr Jansen ook sy teorie verduidelik en dit natuurlik moet verklaar hoekom sy Wiskunde huiswerk nie klaar is nie, wou Mnr Jansen ook nie sy teorie glo nie! Hy kon toe darem sy teorie gebruik vir sy mondeling en het daar nogal goeie punte gekry in plaas van raas.

  Maar die hele storie het hom bly pla. Hoekom het die Maan-manne hom nie kom haal nie? Of was hul teen daardie tyd dalk reeds weg? En as daar dan nooit Maan-manne was nie, hoekom was die winkel dan leeg? Hy het die saak met sy pa bespreek, maar hy kon ook nie die misterie oplos nie.

  Die volgende middag na skool gee Ruan se pa vir hom 'n berig uit die koerant om te lees. Dis 'n Engelse koerant maar Ruan lees baie goed Engels. Die opskrif is Speeding car skips robot. Ruan het nie dadelik verstaan hoekom sy pa wil hê hy moet hierdie berig lees nie. Hy lees toe maar verder. Stadig aan het dinge begin helder word. "... big crash..." en dan bietjie verder "... robot in front of Spar in Redeling street..." en nog bietjie verder af "... Mr James Botha ran into Spar to get some help..." Ewe skielik tref dit vir Ruan tussen die oë. Hy kyk na sy pa en glimlag. Ruan dink nog hardop en al wat hy sê is:"Dit was skíp, nie skip nie! Dit was skíp man!"






Dinsdag 21 Februarie 2017

Pietman Vertel


  Pietman is nie wie jy dink hy is nie. Hy is nie eers wát jy dink hy is nie! Nee, want hy is 'n vlermuis! Maar laat ons maar by Pietman self verder hoor. Hy is tog so lief vir vertel.

  Hallo julle. Ek gaan julle bietjie vertel van my lewe as 'n vlermuis. Dis rof hoor! Maar tog baie lekker ook! Kom ek begin eers met die slegte nuus. My tannie is laas maand begrawe. Dit was nogal hartseer hoor. Dr Lasso sê iemand het haar omstreeks twee-uur die oggend met 'n tennisrakket doodge..... wel julle verstaan wat ek bedoel. My oupa sê rakkette is verantwoordelik vir ongeveer 65% van alle sterftes onder ons vlermuise! So julle sal verstaan as ek sê dat ek nie van tennis hou nie en ook sommer nie van muurbal of pluimbal nie.

  "Ai, die lewe van 'n vlermuis", dis nou wat my oupa altyd sê en dan sug hy so 'n groot sug. My oupa is maar oud, seker so vier jaar al! Ek het al gehoor mens-oupas word sommer 80 of 90 jaar oud, maar dit kan beslis nie waar wees nie! Verbeel jou. 90! Ag pfft!

  Maar ja, die lewe van 'n vlermuis is lekker ook. Kyk nou maar na my ma en pa. Hulle is gisteraand twaalfuur na Die Donkie. Dis 'n kroeg net so vyf kilometer van ons grot af. Ma het gesê ek moet my tande slyp en dan gaan hang. Ek mag mos nie na twaalf nog buite wees nie. Maar wag net dat ek een jaar oud is hoor! Dan gaan ek ook Donkie toe en ek gaan laat kuier hoor! Sommer tot die son opkom.

  Ons grot is darem self ook nie 'n slegte plek nie. Ons het nogals 'n luukse grot eintlik. Twee uitgange, 'n spens, 'n groot kombuis en elf kode-vier hangplekke. Ons grot is baie gerieflik. Hy front suid, so die son pla ons darem nie vroeg nie. In die somer is hy tog lekker warm en bedompig. Ons het die grot oorgeneem nadat my pa verkies is tot Minister van Restaurante en Kroeë. Ons sosiale aanhang het snaaks genoeg verdubbel na my pa die verkiesing gewen het. My oupa sê dit was te wagte, maar ek verstaan niks daarvan nie.

Die ander vlermuise hou baie van ons, maar die ander diere hou nie van ons nie. My ouma het gesê dat dit verstaanbaar is. "Ons soek hulle bloed en daarom soek hulle ons bloed."
My ouma het maar altyd in sulke raaisels gepraat, dis nou voor haar dood natuurlik. Haar sonar het opgepak en toe vlieg sy in 'n muur vas. Sy was by 'n spesialis gewees 'n week voor die ongeluk, maar volgens hom kon daar niks aan die probleem gedoen word nie.

  My oupa is deesdae so leweloos, hy hang net rond. Hy gaan nooit meer uit nie, selfs nie vir 'n olifant nie! My oupa was op sy dag die hoof raadgewer van die president gewees. Dit was nou in die tyd van die groot droogte, toe kos volop en so toeganklik was. So hoor ek maar. Deesdae hang Oupa by die venster rond en staar die verte in, selfs in die dag. Dis seker nou nie meer lank nie.

  En dan is daar my ouer broer waarvan ek julle nog moet vertel. Hy is maar die moeilike een van die gesin. Hy wou nie skool toe gaan nie en is maar altyd in die sop. Kyk nou maar soos laasweek. Hy het weer baie laat by die huis gekom. Hy en Ma het 'n woordewisseling gehad. My broer kuier by 'n vrugtevlermuis jy sien en dit is natuurlik heeltemal ongehoord en onbetaamlik jy sien.
"Hulle soort is laer as die seebodem!", het my ouma altyd gesê. My pa was nie veel gepla nie. Hy het 'n wilde lewe gelei, wel dis nou voor hy met Ma getrou het en sy hom in die politiek ingedwing het.
"Jy kan jou pa se posisie baie benadeel jongeling!", het sy my broer berispe. Ag maar Ma het dit tog maar als vir ons onthalwe gedoen.

  Die lewe is eintlik 'n fees. 'n Vlermuis moet net wegbly van mense en rakkette en wag vir die volgende droogte. Dis nou iets wat ék sê.


  Ek moet nou eers gaan eet, maar miskien vertel ek jul 'n ander keer nog oor die lewe van vlermuise. Soos my beste pel Djam altyd sê:"Vlermuise is cool, veral as hulle lank in die yskas was!"

Sondag 12 Februarie 2017

Jamsie die muis

  Jamsie is ‘n wollerige, saggerige muis. Sy hare is wit soos sneeu. Dis nou natuurlik net as hy al klaar gebad het! Maar hy speel graag in modder... dan lyk hy baie na ‘n sjokolade muis! 
Jamsie die muis is 'n wollerige, saggerige muis.

  Jamsie hou van hardloop en ook van sing en lag en hy kan klavier speel! Dis ‘n baie klein klaviertjie hoor! Sy mamma maak vir hom kaasbredie as hy so baie gespeel het. Dan eet hy sy magie trommeldik en dan voel hy weer sterk en gereed vir nog baie speel.

  Jamsie se beste maatjie is Lientjie die eend. Saam is hulle soos roomys en sjokoladesous. Hulle sing saam die lekkerste liedjies en Lientjie leer vir Jamsie hoe om te swem. Jamsie leer vir Lientjie van modderspeel. Lientjie hou ook van musiek soos Jamsie en sy kan baie goed op die trom slaan. Jamsie en Lientjie gaan eendag 'n orkes begin en almal nooi om te kom luister.

  As die maan al hoog sit wil Jamsie nog speel, maar as sy ogies begin toeval en hy gee sulke grote grote gape? Dan moet ‘n muis eerder gaan slaap, want môre kom die son hom vroeg haal vir ‘n splinternuwe speel!

Jamsie se liedjie:
Jamsie die muis, eet graag kaas.
Hy hou van sing en ook van lekker raas!
Jamsie die muis bly onder die kombuis.
 Hy speel so mooi klavier, kom luister gou-gou hier! 

Woensdag 01 Februarie 2017

'n Verrassing en 'n Toertjie


Carla se Verrassing


  Carla bly saam met haar ma en pa by die see. As jy die voordeur oopmaak en jy loop 5 tree vorentoe: een, twee, drie, vier en vyf -  dan is jou tone tog in die warm wit sand en die wind kielie saggies deur jou hare.

  Carla is baie lief vir die see. Sy bou kastele op die strand en bring sommer haar poppe saam. Sy hardloop deur die vlak water en spring op as die branders aangerol kom. Haar gunsteling ding om te doen is krappies kyk. In die helder poele tussen die rotse loer sy vir die vissies en die slakkies, maar sy raak baie opgewonde as sy ‘n krappie sien. Daar is die mooiste rooies en klein bruinetjies. Party het spikkels op. Party het groot knypers en ander is weer piepklein. Ja, Carla is sommer baie lief vir die see.

  Eendag toe haar pa terug kom van die werk af, dra hy ‘n kartonboks die huis in. Carla is dadelik baie nuuskierig. Wat kan tog in die boks wees? Dalk ‘n nuwe sagte speelding? Of dalk ‘n ....
Maar Carla het nie tyd gehad om verder te wonder nie, want daar spring die boks oop en wat sien sy?

  Dis 'n baba hondjie! Carla kan dit nie glo nie, sy het sommer geskrik toe die klein sjokolade-bruin koppie uitpop by die boks. Hy is tog te pragtig met die kleinste voetjies en kort maar sagte hare wat plekplek nog bietjie donserig is. Sy stert is amper langer as hy en swaai heen-en-weer. Carla tel die hondjie in haar arms en kyk vir haar pa wat met 'n groot glimlag vir haar staan en kyk.

"Dis jou verrassing Carla. Hy is nou joune. Jy moet vir hom 'n naam gee!"

  Carla wou eintlik net op en af spring van opgewondenheid, maar met hondjie in haar arms het sy maar eerder nie gespring nie. Wat sou sy naam wees? Dalk Sjokkie omdat hy soos sjokolade lyk, of wat van Ou Langstert, of miskien Liefie of Drukkies of Voete. Sjoe dis harde werk om vir jou eerste hondjie 'n naam te gee!

  Carla het vir hondjie die strand en die see gaan wys. Toe sy sien hoe geniet hy als net soos sy, toe besluit sy dat hondjie se naam Krappie moet wees!

  Carla en Krappie was sommer dadelik beste vriende. Krappie het orals saam met Carla gegaan en sy was seker hy verstaan wat sy vir hom sê. Saam het hul gehardloop deur die wit sand en saam het hulle neergeval in die vlak water en gemaak of hulle skrik as die branders oor hulle tone rol. En natuurlik het hulle saam gaan krappies kyk!



Leanie Gaan Sirkus Toe


  Elke dag oefen Leanie saam met haar hondjie. Haar hondjie se naam is Theunsie en Theunsie is besig om allerande toertjies te leer. Theunsie is sommer al baie goed met omrol en om op sy agterbene te staan vir 'n kort rukkie. Hy kan ook sy stert op en af swaai op die maat van die musiek wat Leanie vir hom speel. Daar is een toertjie wat Theunsie nog glad nie regkry nie en dis om 'n stukkie biltong wat op sy neus lê in sy mond te vang wanneer Leanie vir hom die teken gee.

  Theunsie is eintlik baie goed daarmee om die biltong op te wip en te vang met sy bek, maar hy kan nooit wag vir die teken nie! Sodra Leanie die biltong neergesit het, hap hy dit onmiddellik!
Leanie is nou al raadop en weet net nie meer wat om te probeer nie. Leanie se mamma sien dat sy so moedeloos lyk terwyl sy Theunsie se koppie vryf.

"Wat makeer dan nou? Jou gesig lyk of iemand jou pop gesteel het? Is daar iets wat jou pla jong?"

  Leanie vertel toe haar ma van hoe Theunsie nie kan wag vir die teken nie en hoe sy nou al als probeer het. Sy glo nie hy sal die toertjie ooit regkry nie! Haar ma staan so bietjie en dink en toe verduidelik sy haar plan.

  Daar is 'n sirkus wat die dorp hierdie hele week besoek. Hierdie sirkus het allerande diere wat toertjies doen. Daar is 'n slang wat uit 'n hoed opstyg. Daar is apies wat op tikmasjiene vir die skares liefdesbriefies tik en dan is daar nog tiere en pikkewyne en tot selfs slakke! En dan die beste van als? Daar is hondjies wat toertjies doen! Of so het tannie Velma vir Leanie se ma vertel nadat sy en haar nuwe kêrel die vorige aand by die sirkus was.

"En wat dink jy beteken dit Leanie?"

"As daar hondjies is wat toertjies doen, dan moet daar mos 'n hondjie-toertjie-leermeester wees!"

"Ja! So ek gaan hulle bel en hoor of ek en jy nie met die hondjie-toertjie-leermeester kan gaan gesels nie."

  Leanie se ma het toe gebel en 'n uur later was sy en Leanie by die groot rooi tent so ent buite die dorp. Die groot leermeester was gelukkig baie gaaf gewees en het uitgevra oor Leanie se hondjie en die toertjies wat hy al kon doen en die waarmee hy nog sukkel. Hy het sommer gelag toe Leanie hom vertel van die gesukkel met die biltong toertjie. Hy het verduidelik dat dit vreeslik baie verwag van ou Theunsie om nie die biltong te eet nie. Toe gee hy vir Leanie die plan om eers met iets anders te begin, iets wat Theunsie nog steeds sal wil eet, maar wat nie so spesiaal lekker vir hom is soos biltong nie. Hy het ook vir haar moed ingepraat en gesê dat as sy geduldig bly oefen saam met Theunsie dat hy nog al die toertjies sal regkry.


  Leanie was tog te bly en wou sommer huistoe gaan om te gaan probeer, maar toe kry sy 'n lekker verrassing. Die leermeester het vir haar en haar ma elkeen 'n kaartjie gegee vir die middagvertoning van die sirkus! Hul het reg voor gesit en hulle monde het oop gehang soos hul al die wonderlike toertjies van die diere en ook die mense van die sirkus bekyk het. Leanie se gunsteling was natuurlik die honde se toertjies! Eendag, eendag het sy gedink, gaan sy ook so 'n spannetjie pragtige toertjie-honde hê en saam gaan hulle oor die hele land reis en mense vermaak so ver hul gaan. Eendag!

Dinsdag 31 Januarie 2017

Gouelokkies se Ouma

  Eendag lank lank gelede was daar 'n dogtertjie wat in 'n houthuisie gebly het in die middel van 'n baie groot woud. Haar naam was Gouelokkies en sy was 12 jaar oud. Sy het saam met haar ma en pa, 2 katte en ook haar een ouma gebly. Gouelokkies was vreeslik nuuskierig oor als en het altyd baie vrae gevra. Haar ouma was al baie oud maar sy het altyd geduldig na al Gouelokkies se vrae geluister en probeer antwoorde gee so ver sy kon.


  Eendag het haar ouma 'n klein kissie van hout onder haar bed uitgehaal en vir Gouelokkies nader geroep. Gouelokkies het nog nooit voorheen hierdie kissie gesien nie en wou dadelik als by haar ouma uitvind oor hierdie kissie en natuurlik wou sy bitter graag weet wat binne in is! Haar ouma was nie van plan om haar nuuskierigheid te vreeslik te terg nie en het die kissie oopgemaak. Binne was daar 3 goed gewees: 'n lepel, 'n klein glas dobbelsteentjie en 'n silwer ring met die allermooiste pers gesteente. Gouelokkies het verwonderd staan en kyk na hierdie mooie interessante dinge in haar ouma se kissie. In haar agterkop het sy gehoop haar ouma sou dalk net een van die drie skatte vir haar gee.

  Gouelokkies se ouma sê toe vir haar om langs haar op die bed te kom sit, want sy wou vir haar vertel hoe sy hierdie skatte gekry het. Nou Gouelokkies was mos self gewoond aan avonture. Sy het toe sy 10 was in die woud gestap en per ongeluk die huis van die drie bere ontdek, 'n stoel gebreek, pap geëet en selfs 'n slapie in Bababeer se bed ingepas voor die bere haar ontdek het en sy moes laat spat om daar weg te kom. Sy het nog altyd gewonder hoe haar ouma moes gewees het toe sy nog 'n dogtertjie was. Kon sy dalk ook avonture gehad het lank terug? Sulke skatte in 'n snaakse kissie wat onder die bed weggesteek word, kon tog nie sommer uit die lug geval het nie! Gouelokkies was die ene ore en vol afwagting vir Ouma se storie.

  Toe het Ouma begin vertel: Jy weet Lokkies, ek was ook op 'n slag 12 gewees soos jy nou is. Ek weet dis moeilik om te glo as jy nou na my kyk. Ek kan dit self amper nie eers glo nie! Toe ek 12 was het ek saam met my ma en pa en my ouer boetie gebly in 'n huisie nie baie ver van hier af nie. Ja, ek bly nog my hele lewe in hierdie woud en ek sal dit vir niks wil verruil nie hoor. Nou ek het ook altyd baie vrae gevra soos jy en het graag in die woud gestap om nuwe dinge te ontdek. Eendag besluit ek dat ek graag wil gaan kyk hoe lyk dit anderkant die stroom vanwaar ons water gelei het daardie jare. Die stroom het naby ons huis verby gevloei, maar daar was die stroom nogal diep en breed so ek sou nie daar kon oorgaan nie.

  Ek pak toe maar vir my 'n mandjie met eetgoed en 'n fles vol melk. Ek het geweet ek sou 'n ver ent met die stroom moes afstap om 'n plek te kry waar ek kon oorgaan. Maar ek het nie omgegee vir ver stap nie. Uiteindelik kry ek toe 'n plek met 'n smal bruggie wat oor die stroom strek. Ek was half verbaas, want niemand het my al vertel van hierdie bruggie nie. Ek was tog te bly en begin die bruggie oorsteek. Toe ek reg in die middel van die bruggie was, het ek 'n beweging uit die hoek van my oog gewaar en gaan stilstaan. Ek het gedraai in die rigting van waar ek die beweging gesien het, maar daar was niks. Toe ek terugdraai om verder te stap, skrik ek vreeslik en vries sommer. Aan die einde van die bruggie staan 'n klein kort mannetjie. Hy het so punt baard, 'n punt hoed en 2 gepunte skoene. Als in groen, maar darem nie sy baard nie, dit was pikswart soos sy hare. Die mannetjie staar na my. Hy het nie kwaai gelyk nie, maar ook nie heeltemal vriendelik nie.

  Ek begin toe stadig agteruit loop en wou net omdraai om weg te hardloop toe die mannetjie begin praat:"Hallo daar. Is jy oppad na die koning toe? Wat is jou naam?" Hy het geglimlag en ek het nie meer bang gevoel nie. Ek sê toe:"My naam is Gelina, maar ek ken nie 'n koning nie. Wie is jy dan?"
Hy vertel my toe dat hy 'n Seisj is en dat sy naam Tiolan is. Sy werk was om tower-brue te bou oor die stroom vir die wat die koning van die Seisje kom sien. Hy het my gesien loop al met die stroom langs en toe gedink ek moes prinses Somelien wees wat besoek kom aflê by die koning van die Seisje. Toe het hy die brug gebou dat ek kon oorkom. Ek het vir Tiolan gevra hoekom hy dan gedink het ek is prinses Somelien. Hy het verduidelik dat ek vreeslik baie na haar lyk, ek was eintlik net bietjie te lank om sy te kon wees, maar hy het gedink dat hy hom dalk net misgis het met my lengte so op 'n afstand.

  Ek was nog stomgeslaan deur hierdie wonderlike ontdekking in die woud. 'n Tower-brug gebou deur 'n eienaardige Seisj mannetjie. Konings, prinsesse! Wat sou volgende kom?

  Tiolan het my verder begin vertel van die Seisje se land. Wonderlikste diere wat daar woon en die mooiste riviere en watervalle en dan die ongelooflike paleis van die koning. Ek wou net begin uitvra oor sy familie toe ek iets hoor agter my. Daar staan 'n baie kort jong vrou met die pragtigste rok en juwele en skoene. Ek roep toe sommer uit:"Maar jy moet seker prinses Somelien wees!" Sy kyk my verbaas aan. Ek was reg gewees. Tiolan het gesê dat hy die prinses paleis toe moes neem en dat hy nie verder met my kon gesels nie. Ek vra toe of ek nie dalk mag saamgaan nie. Hy het vinnig daaroor gedink en toe gevroetel in sy sak. Hy haal toe hierdie silwer ring uit met die pers gesteente. Tiolan sê toe ek sal die ring moet aansit as ek wil saamgaan. Ek het nie gehuiwer nie en sit toe die ring aan. Eensklaps begin ek krimp! Toe ek net so lank soos Tiolan en prinses Somelien was, sê Tiolan:"Nou ja, nou sal die Seisje nie vir jou skrik nie." 

  En daar stap ons drie met 'n nou paadjie na die paleis! Prinses Somelien was sommer baie gaaf en baie slim. Sy was oppad na die koning om hom te kom raad gee oor die krisis met die motte wat sy vrugteboord so verniel. Om twee verdere draaie en verby 'n vreeslike hoë waterval het ons afgeloop gekom op die paleis van die koning van die Seisje. Dit het sewentien klein uitkyktorinkies gehad en orals was pers gesteentes soos in my ring maar baie groter.  Rondom die paleis het 'n rivier gevloei met kristalhelder water. Orals was daar baie diere en ook die helderste visse in die rivier. Ek, Tiolan en prinses Somelien het oor 'n groot brug gestap en toe staan ons voor die tamaaie deur van die paleis. Ek was bietjie bang om in te gaan, maar Tiolan het gesê ek hoef vir niks bang te wees nie want die koning sal definitief van my hou.

  Hy was reg. Koning Jemnir was sommer baie gaaf en het my welkom laat voel. Ons het sommer dadelik koek en tee gekry en toe vra Jemnir vir my en die prinses of ons van speletjies hou. Sonder om te wag vir 'n antwoord haal hy daar 'n boks uit 'n kas en begin als uitpak op die tafel. Dit was 'n ingewikkelde bordspeletjie wat ek nie kon verstaan nie, so toe het ek maar net die dobbelsteentjie gegooi vir koning Jemnir en prinses Somelien. Somelien het gewen en toe sê Jemnir ek kan maar die dobbelsteentjie hou as ek wil.

"Is dit nou hierdie glas dobbelsteentjie in Ouma se kissie? Was dit dié ene Ouma?"

"Ja Gouelokkies, dit was die einste een."

"Maar wat dan van die lepel Ouma? Hoe het Ouma hom gekry?"

"Jong maar jy is ongeduldig né! Ek gaan nou amper by die lepeltjie uitkom. Maar laat ek jou eers vertel wat nog gebeur het."

Koning Jemnir het gevra of ons na sy vrugteboorde kon gaan kyk. Onthou jy prinses Somelien het mos eintlik  gekom omdat daar so 'n krisis was met die vrugtebome met die motte. Die motte was hierdie jaar so baie. Hulle lê eiers in die jong vrugte en die mot larwes eet dan hul pad uit. Dis heel normaal, maar hierdie jaar was daar net te veel motte en larwes! Prinses Somelien het seker gemaak presies watter soort motte dit was en toe het sy 'n plan bedink. Sy het vir koning Jemnir verduidelik wat hy moes doen om 'n spesiale soort voël te lok na die vrugteboorde. Die soort voël se gunsteling kos was niks anders as die lastige motte nie! Koning Jemnir was sommer heel in sy skik met die plan. Ons het terug gestap paleis toe en lekker vrugtesap gedrink om die plan te vier.

  Toe het ek besef dat dit al laat begin raak en dat my ma en pa seker al bekommerd sou begin raak as ek langer wegbly. Ek het almal bedank vir die heerlike dag en hul gasvryheid. Tiolan het saam met my gestap tot by die stroom. Daar het hy 'n nuwe towerbrug gemaak sodat ek kon terugkom in die gewone wereld. Dit was als so wonderlik.

  Ek het die volgende dag terug gegaan na die plek waar ek laas vir Tiolan gesien het, maar die brug was weg. Ek het baie keer weer terug gegaan en selfs 'n plek gekry waar ek oor die stroom kon gaan, maar ek kon nie die land van die Seisje ooit weer kry nie. Ek was nog altyd spyt dat ek ook nie vir prinses Somelien gevra het waar sy gebly het nie.

"Nou het Ouma hul dan nooit weer gesien nie?"

"Nee, ongelukkig nie. Maar al die herinneringe bly my nou nog by."

"Maar Ouma, wat dan van die lepeltjie?"

"O ja! Ek't weer vergeet daarvan. Hierdie lepel was een van 'n stel wat my ma s'n was. Dit het sommer baie sentimentele waarde vir my so ek bêre dit ook in die kissie. Dis soos my skatkissie."

  Gouelokkies se Ouma het met Gouelokkies se volgende verjaarsdag die kissie met die drie items vir Gouelokkies gegee. Sy het geweet dat sy dit ook mooi sou bewaar. Gouelokkies het ook soms langs die stroom gaan soek of sy nie dalk 'n Seisj sien nie of tekens van 'n towerbrug, maar daar was niks. Al teken dat daar iets spesiaals daar naby die stroom was, het sy eendag ontdek toe sy die ring met die pers gesteente aangesit het. Sy het sowaar ook gekrimp soos wat haar Ouma vertel met haar gebeur het! Ai, hoe lekker sou dit nie wees as sy ook vir prinses Somelien, vir Tiolan en koning Jemnir, die koning van die Seisje kon ontmoet nie! Miskien tog eendag?

Maandag 30 Januarie 2017

Hoekom het koning Leeu dan so baie hare?

  (Om na hierdie storie te luister, laai die mp3 gratis af.)

  Het jy al ooit gewonder hoekom koning Leeu so baie hare het? Wel as jy het, dan is jy nie alleen nie. Dit is presies waaroor koning leeu se seun ook gewonder het. Sy naam was Leonov en hy het nogal gewonder oor baie dinge.

  Leonov het gewonder hoekom gras dan nie vir hom lekker was nie. Samie die Springbok het dan so baie van gras gehou. Hy het gewonder of hy ook sal kan boomklim soos Mjanji die apie as hy dalk net baie oefen. Leonov het gewonder of hy sal kan leer vlieg soos sy vriend Rento die arend. En dan het hy ook natuurlik gewonder hoekom sy pa Leon dan so baie hare het?
  
  Leonov vra toe maar sy ma daaroor. Sy ma sê toe dat sy pa se maanhare, dis nou die groot boskaas hare rondom sy pa se nek en kop, hom koninklik laat lyk. Leonov was nie so seker of dit die regte antwoord was nie, so toe gaan vra hy vir ou Oom Krokodil ook. Oom Krokkie was al oud en slim so hy sou sekerlik weet, het Leonov gedink. Oom Krokkie sê toe dat koning leeus maar nog altyd so gelyk het en dis hoekom dit so moet wees. Weer was Leonov nie tevrede met die antwoord nie.

  Volgende gaan vra hy toe vir sy juffrou by die skool. Juffrou Angelina die Uil was baie slim. Sekerlik sou sy tog die regte antwoord ken? Juffrou Angelina het verduidelik dat koning leeus nie altyd so baie hare gehad het nie, maar dat dit een winter vreeslik koud was en toe het die koning leeu van daardie jare besluit om serpe te begin dra. Die volgende winter, toe het die koning leeu sommer sy eie serp gegroei en tadah! so was dit nog altyd van toe af. Leonov het nogal baie van hierdie verklaring van juffrou Uil gehou maar dit kon tog nie waar wees nie, of hoe?

  Leonov besluit toe om vir sy pa self te gaan vra.

"Pa? Ek het iets waaroor ek nou al lank wonder."

"Maar ek ken jou mos so Leonov. Hahaha! Waaroor wonder jy vandag?"

"Ag ek het maar net gewonder hoekom pa so baie maanhare het? Ek het nou al vir ma en vir Oom Krokkie en vir juffrou Uil gevra. Maar ek dink nie hulle weet regtig nie."

"Seun, ek moet jou sê, ek dink ook nie ek gaan vir jou 'n goeie antwoord kan gee nie. So kom ek vra jou eerder 'n vraag. Hoekom wil jy so graag weet?"

"Dink pa ek gaan ook eendag sulke maanhare hê?"

"O beslis! Jy is 'n ware leeu en jy gaan koning wees soos ek...."

  Koning leeu sien op Leonov se gesig dat hy nie baie gelukkig lyk met die antwoord nie.

"En nou Leonov? Ek dog jy sal bly wees oor hierdie antwoord?"

"Ja... maar pa weet mos... ek hou niks van hare was nie!"

  Leonov en sy pa het lekker saam gelag oor hierdie een! En wat van julle? Hou julle van hare was?