Pietman is nie wie jy dink hy is nie. Hy is nie eers wát jy
dink hy is nie! Nee, want hy is 'n vlermuis! Maar laat ons maar by Pietman self
verder hoor. Hy is tog so lief vir vertel.
Hallo julle. Ek gaan julle bietjie vertel van my lewe as 'n
vlermuis. Dis rof hoor! Maar tog baie lekker ook! Kom ek begin eers met die
slegte nuus. My tannie is laas maand begrawe. Dit was nogal hartseer hoor. Dr
Lasso sê iemand het haar omstreeks twee-uur die oggend met 'n tennisrakket
doodge..... wel julle verstaan wat ek bedoel. My oupa sê rakkette is
verantwoordelik vir ongeveer 65% van alle sterftes onder ons vlermuise! So
julle sal verstaan as ek sê dat ek nie van tennis hou nie en ook sommer nie van
muurbal of pluimbal nie.
"Ai, die lewe van 'n vlermuis", dis nou wat my
oupa altyd sê en dan sug hy so 'n groot sug. My oupa is maar oud, seker so vier
jaar al! Ek het al gehoor mens-oupas word sommer 80 of 90 jaar oud, maar dit
kan beslis nie waar wees nie! Verbeel jou. 90! Ag pfft!
Maar ja, die lewe van 'n vlermuis is lekker ook. Kyk nou
maar na my ma en pa. Hulle is gisteraand twaalfuur na Die Donkie. Dis 'n kroeg
net so vyf kilometer van ons grot af. Ma het gesê ek moet my tande slyp en dan gaan
hang. Ek mag mos nie na twaalf nog buite wees nie. Maar wag net dat ek een jaar
oud is hoor! Dan gaan ek ook Donkie toe en ek gaan laat kuier hoor! Sommer tot
die son opkom.
Ons grot is darem self ook nie 'n slegte plek nie. Ons het nogals
'n luukse grot eintlik. Twee uitgange, 'n spens, 'n groot kombuis en elf kode-vier
hangplekke. Ons grot is baie gerieflik. Hy front suid, so die son pla ons darem
nie vroeg nie. In die somer is hy tog lekker warm en bedompig. Ons het die grot
oorgeneem nadat my pa verkies is tot Minister van Restaurante en Kroeë. Ons
sosiale aanhang het snaaks genoeg verdubbel na my pa die verkiesing gewen het.
My oupa sê dit was te wagte, maar ek verstaan niks daarvan nie.
Die ander vlermuise hou baie van ons, maar die ander diere
hou nie van ons nie. My ouma het gesê dat dit verstaanbaar is. "Ons soek hulle bloed en daarom soek hulle ons
bloed."
My ouma het maar altyd in sulke raaisels gepraat, dis nou
voor haar dood natuurlik. Haar sonar het opgepak en toe vlieg sy in 'n muur
vas. Sy was by 'n spesialis gewees 'n week voor die ongeluk, maar volgens hom
kon daar niks aan die probleem gedoen word nie.
My oupa is deesdae so leweloos, hy hang net rond. Hy gaan
nooit meer uit nie, selfs nie vir 'n olifant nie! My oupa was op sy dag die
hoof raadgewer van die president gewees. Dit was nou in die tyd van die groot
droogte, toe kos volop en so toeganklik was. So hoor ek maar. Deesdae hang Oupa
by die venster rond en staar die verte in, selfs in die dag. Dis seker nou nie
meer lank nie.
En dan is daar my ouer broer waarvan ek julle nog moet
vertel. Hy is maar die moeilike een van die gesin. Hy wou nie skool toe gaan
nie en is maar altyd in die sop. Kyk nou maar soos laasweek. Hy het weer baie laat
by die huis gekom. Hy en Ma het 'n woordewisseling gehad. My broer kuier by 'n
vrugtevlermuis jy sien en dit is natuurlik heeltemal ongehoord en onbetaamlik
jy sien.
"Hulle soort is laer as die seebodem!", het my
ouma altyd gesê. My pa was nie veel gepla nie. Hy het 'n wilde lewe gelei, wel
dis nou voor hy met Ma getrou het en sy hom in die politiek ingedwing het.
"Jy kan jou pa se posisie baie benadeel
jongeling!", het sy my broer berispe. Ag maar Ma het dit tog maar als vir
ons onthalwe gedoen.
Die lewe is eintlik 'n fees. 'n Vlermuis moet net wegbly van
mense en rakkette en wag vir die volgende droogte. Dis nou iets wat ék sê.
Ek moet nou eers gaan eet, maar miskien vertel ek jul 'n ander
keer nog oor die lewe van vlermuise. Soos my beste pel Djam altyd
sê:"Vlermuise is cool, veral as hulle lank in die yskas was!"
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking