Elke aand as dit slaaptyd is en ek het klaar my tande
geborsel dan spring ek gou in die bed, want dan is dit storietyd! My ma lees
elke aand vir my 'n storie of sommer drie as ek mooi vra. En dan as sy wil gaan,
dan sê ek dat ek nog nie moeg is nie, of ek sê ek is honger of dalk dors. Dan
sug my ma so sug en dan bring sy vir my dalk 'n bietjie heuning of dalk 'n glas
water en dan terwyl ek so vinnig ek kan eet of my water drink – vinnig?
mwhahaha! – dan is daar mos tyd vir nog 'n storie!
Oe, ek is baie lief vir
stories hoor! Net so nou en dan as ek te veel aanhou vra, dan waarsku my
ma:"Jannemaaaan...". Dan sê ek maar net : "Mamma moet ook lekker
slaap hoor!", en dan begin ek solank uitsien na môre aand se stories!
Maar ek het 'n geheim. Julle moet nou saggies luister hoor!
As my lig af is en ek hoor mamma se skoene maak so tjiek-tjakke daar aan die
einde van die gang, dan kom kuier 'n kriek vir my! Ja regtig! Sy naam is ook
Janneman en hy bly onder my bed. Dis moeilik om te glo ek weet. Ek bedoel wat
is die kans dat sy naam óok Janneman is! Fantasties né?
Janneman luister altyd saam na my ma se stories. Hy sit
tjoepstil daar onder. Gisteraand het my ma 'n snaakse storie gelees en toe kon
ou Janneman nie sy lag hou nie. My ma kyk my snaaks aan, gaan uit die kamer uit
en kom terug met 'n bottel medisyne. Sy sê toe my stem klink nie reg nie, ek
beter oppas vir verkoue. Sjoe, dit was amper!
Janneman het gesê ek moenie vir my ma vertel van hom nie
want hy dink nie ma's hou van krieke nie. Ek dink hy is verkeerd, maar dit is
eintlik nogal lekker om 'n klein geheim te hê. Ek vertel my ma eintlik alles,
so ek sal haar nog van Janneman ook vertel. Maar ek gee Janneman nog so paar
dae kans dat hy net kan sien my ma gaan hom sommer oor 'n honderd like!
Janneman het eergister saam met my skooltoe ook gegaan, maar
hy was baie verveeld. Hy sê die sangklas was lekker en die pouse, maar hy het
niks van wiskunde gehou nie. Ek probeer hom nou sy tafels leer, dan is ek seker
hy gaan van wiskunde begin hou. Janneman is nie so seker nie...
(Drie dae later)
Gisteraand toe my ma wou begin storie lees, het ek haar eers
vertel van Janneman. Sy het eers gedink my verbeelding is weer in 'overdrive',
maar toe roep ek vir Janneman. Eers wou hy nie kom nie. Toe het hy met die bed
se poot tot bo geklim en vir my ma gewaai! Ek dog my ma se kakebeen gaan op my
kussing land. Sy was so verbaas. Ek het haar als vertel en nou mag Janneman op
my kussing sit elke aand as ons saam stories luister.
Elke aand is dit die twee Jannemans wat wag vir die stories. Kyk ons foto hier onder. Hy eet saam met my heuning en hy is ook nooit moeg genoeg om te gaan slaap nie,
nes ek! Dis net onregverdig dat hy dan nooit sy tande hoef te borsel nie! En o
ja, Janneman begin nou sy tafels ken: koffietafel, eetkamertafel en sy
gunsteling, die kombuistafel...
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking