Dit was kwart oor ses in die aand en Ruan moes eintlik al
klaar gewees het met sy huiswerk, maar hy het nog nie eers begin nie! Hy het
gereken hy sou dalk in die moeilikheid wees die volgende dag by ou meneer
Jansen, maar wat. Hoe dikwels kry mens nou die kans om maan toe te gaan?!
Woensdag oggend was als nog normaal, as mens dit so kan
noem. Ruan het soos gewoonlik sy pap voor die TV sit en eet, sy sussie was
besig met haar hare en ma en pa het ook nog iewers in die huis rondgeskarrel om
verlore brille te soek en te reel wie moet nou vir wie wanneer oplaai en aflaai
vir die dag. Langs Ruan op die bank was ou Geles die kat. Geles was soos ‘n
regte kat betaam maar redelik min gespin oor al die vroeg-oggend warboel in die
Havenga huis. Min het Ruan toe geweet hoe avontuurlik hierdie Woensdag sou
uitdraai!
Dinge by die skool het ook maar redelik normaal verloop vir
‘n Woensdag. Wiskunde, Afrikaans en NWT. Toe darem eers pouse. Engels, SW, nog
‘n pouse en laastens was dit uiteindelik Lewensorientering. Ruan moes studie
sit en daarna het hy soos gewoonlik gaan hokkie oefen. Hy speel in die Graad 7 A
span en hoop om vanjaar weer vir die Vrystaat gekies te word. Ruan kon nie al sy
huiswerk in studie klaarkry nie en het geweet die Wiskunde en voorbereiding vir
more se mondeling sou nog vir hom wag as hy by die huis kom.
Ruan se pa het hom
soos gewoonlik net na die hokkie kom oplaai en toe is hul huistoe. Nou hier is
waar dinge so bietjie anders begin loop. Hul stop eers by Spar. Dis
eintlik heel normaal, maar wat snaaks was of eienaardig ten minste, was dat
hulle die enigste mense daar was! Behalwe vir een vrou wat die kasregister
beman het, of is dit nou bevrou het? Gewoonik hierdie tyd van die dag is die Spar baie besig! Wat
was aan die gang? Voor by die kasregister kan Ruan sy nuuskierigheid nie meer
hou nie.
"Askuus tannie, maar hoekom is dit dan so stil hier
vandag?"
"Nee jong, 5 minute gelede was die winkel nog stampvol.
Toe storm hier 'n ou in met sulke deurmekaar hare. Hy was nogal aantreklik...
maar anyhow, toe storm hy hier by die winkel in en begin iets mompel van 'n
skip by die robot. Ek het nie verder geluister nie want my volgende customer
was hier en anyhow hoe kry jy nou 'n skip in die middel van die Vrystaat?
Hahaha! Verbeel jou!!"
"Maar wat het toe van al die mense geword tannie?"
"O ja, toe ek weer opkyk is die winkel leeg. Selfs ou
Jenna hier by die till langs my was ook sommer gone."
Ruan was nou eers nuuskierig. Wie kon hierdie man met die
deurmekaar hare wees? En hoe het dit veroorsaak dat almal nou weg is uit die
winkel? Ruan het gesien sy pa was heel rustig oor die saak. Eintlik kon hy raai
sy pa sou dalk nog nie eers agtergekom het hul is alleen in die winkel nie.
Dink seker weer aan werk en allerande goed. So hierdie misterie sou hy maar
self aanpak en hopelik oplos.
Oppad huistoe het
Ruan hard gedink oor die vreemde affere. En toe tref dit hom.
"Natuurlik!
Dis die enigste opsie. 'n Ruimteskip! Dis tog al skip wat in die Vrystaat kan
kom en dit verklaar waar al die mense is! Hul is natuurlik deur die ruimteskip
opgesuig of iets! Wat dink jy pa? Dit is tog al wat sin maak, of hoe?"
"Wat nou van
'n ruimteskip? Is dit vir jou mondeling van more? Moet jy weer karton skool toe
vat?"
"Huh? O,
nee, ek praat van die mense wat weg was in die winkel. En die skip.... uhmmm, ja,
dis my mondeling van more."
Ruan het hom
bedink en gereken hy moes hierdie teorie van hom nou eers self verder op die
proef stel en dan as hy sy feite in 'n lyn het dan sal hy sy pa vertel.
By die huis gekom
was die ruimteskip al waaraan hy kon dink. 'Hoe cool sou dit nie wees om maan
toe te kan gaan nie! Dis nou as hierdie ouens ooit van die maan is. Dalk is
hulle van Jupiter of dalk is hul glad
nie eers van ons sterrestelsel nie! Dis alles net te fantasties. Hulle sal
darem seker vriendelik wees want watter wesens met sulke ongelooflike
gevorderde breinkrag om ruimteskepe te bou sal nog so dom wees om onvriendelik
te wees? Ja-aag wat, hulle sal vriendelik wees. En dink nou net as ek kan
saamgaan!'
Toe begin Ruan
besef dat as hy wil saamgaan sal die Maan-manne darem seker net eers van hom
moet weet. 'Dis seker hoekom
die man met die deurmekaar hare in die winkel ingestorm het. Hy het seker vir
hulle kom sê om saam te kom! Ek sal 'n plan moet maak dat hulle van my weet en
dat hul kan sien dat ek ook vriendelik is en natuurlik ook met gevorderde
breinkrag. Ek moet hul laat weet dat ek wil saamgaan.'
Ruan werk toe 'n
plan uit. Hy dra die groot luidspreker van die Hi-fi uit buitentoe. Toe vind hy
gelukkig die mikrofoon in 'n laai en haas na buite om sy aankondiging te maak.
"Hallo
wesens van die ruimte. Ek is Ruan Havenga en ek wil jul net laat weet dat ek
regtig 'n vriendelike ou is en as jul dit goeddink, dan sal ek ook wil saamgaan
in jul skip. Ek wil natuurlik weer terugkom, maar sal bitter graag wil sien hoe
lyk Jupiter!"
Ruan se pa en ma
en sy sussie is soos blits uit die huis en kyk verbaas na Ruan.
"Wat is aan
die gang seun? Is dit vir jou mondeling van more?"
Ruan verduidelik
toe maar sy hele teorie aan die drie wat daar staan met sulke breë glimlagte op
hul gesigte. Soos hy verduidelik word die glimlagte net breër. Ruan kon nie glo
dat hul nie sy teorie met ope arms omhels nie. Dis tog duidelik!
Die ergste is,
toe Ruan die volgende dag vir Mnr Jansen ook sy teorie verduidelik en dit
natuurlik moet verklaar hoekom sy Wiskunde huiswerk nie klaar is nie, wou Mnr Jansen
ook nie sy teorie glo nie! Hy kon toe darem sy teorie gebruik vir sy mondeling
en het daar nogal goeie punte gekry in plaas van raas.
Maar die hele
storie het hom bly pla. Hoekom het die Maan-manne hom nie kom haal nie? Of was
hul teen daardie tyd dalk reeds weg? En as daar dan nooit Maan-manne was nie,
hoekom was die winkel dan leeg? Hy het die saak met sy pa bespreek, maar hy kon
ook nie die misterie oplos nie.
Die volgende
middag na skool gee Ruan se pa vir hom 'n berig uit die koerant om te lees. Dis
'n Engelse koerant maar Ruan lees baie goed Engels. Die opskrif is Speeding car skips robot. Ruan het nie
dadelik verstaan hoekom sy pa wil hê hy moet hierdie berig lees nie. Hy lees
toe maar verder. Stadig aan het dinge begin helder word. "... big
crash..." en dan bietjie verder "... robot in front of Spar in
Redeling street..." en nog bietjie verder af "... Mr James Botha ran
into Spar to get some help..." Ewe skielik tref dit vir Ruan tussen die
oë. Hy kyk na sy pa en glimlag. Ruan dink nog hardop en al wat hy sê
is:"Dit was skíp, nie skip nie! Dit was skíp man!"
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking