Eendag lank
lank gelede was daar 'n dogtertjie wat in 'n houthuisie gebly het in die middel
van 'n baie groot woud. Haar naam was Gouelokkies en sy was 12 jaar oud. Sy het
saam met haar ma en pa, 2 katte en ook haar een ouma gebly. Gouelokkies was
vreeslik nuuskierig oor als en het altyd baie vrae gevra. Haar ouma was al baie
oud maar sy het altyd geduldig na al Gouelokkies se vrae geluister en probeer
antwoorde gee so ver sy kon.
Eendag het
haar ouma 'n klein kissie van hout onder haar bed uitgehaal en vir Gouelokkies
nader geroep. Gouelokkies het nog nooit voorheen hierdie kissie gesien nie en
wou dadelik als by haar ouma uitvind oor hierdie kissie en natuurlik wou sy
bitter graag weet wat binne in is! Haar ouma was nie van plan om haar
nuuskierigheid te vreeslik te terg nie en het die kissie oopgemaak. Binne was
daar 3 goed gewees: 'n lepel, 'n klein glas dobbelsteentjie en 'n silwer ring
met die allermooiste pers gesteente. Gouelokkies het verwonderd staan en kyk na
hierdie mooie interessante dinge in haar ouma se kissie. In haar agterkop het
sy gehoop haar ouma sou dalk net een van die drie skatte vir haar gee.
Gouelokkies
se ouma sê toe vir haar om langs haar op die bed te kom sit, want sy wou vir
haar vertel hoe sy hierdie skatte gekry het. Nou Gouelokkies was mos self
gewoond aan avonture. Sy het toe sy 10 was in die woud gestap en per ongeluk
die huis van die drie bere ontdek, 'n stoel gebreek, pap geëet en selfs 'n
slapie in Bababeer se bed ingepas voor die bere haar ontdek het en sy moes laat
spat om daar weg te kom. Sy het nog altyd gewonder hoe haar ouma moes gewees
het toe sy nog 'n dogtertjie was. Kon sy dalk ook avonture gehad het lank
terug? Sulke skatte in 'n snaakse kissie wat onder die bed weggesteek word, kon
tog nie sommer uit die lug geval het nie! Gouelokkies was die ene ore en vol
afwagting vir Ouma se storie.
Toe het Ouma
begin vertel: Jy weet Lokkies, ek was ook op 'n slag 12 gewees soos jy nou is.
Ek weet dis moeilik om te glo as jy nou na my kyk. Ek kan dit self amper nie
eers glo nie! Toe ek 12 was het ek saam met my ma en pa en my ouer boetie gebly
in 'n huisie nie baie ver van hier af nie. Ja, ek bly nog my hele lewe in
hierdie woud en ek sal dit vir niks wil verruil nie hoor. Nou ek het ook altyd
baie vrae gevra soos jy en het graag in die woud gestap om nuwe dinge te
ontdek. Eendag besluit ek dat ek graag wil gaan kyk hoe lyk dit anderkant die
stroom vanwaar ons water gelei het daardie jare. Die stroom het naby ons huis
verby gevloei, maar daar was die stroom nogal diep en breed so ek sou nie daar
kon oorgaan nie.
Ek pak toe
maar vir my 'n mandjie met eetgoed en 'n fles vol melk. Ek het geweet ek sou 'n
ver ent met die stroom moes afstap om 'n plek te kry waar ek kon oorgaan. Maar
ek het nie omgegee vir ver stap nie. Uiteindelik kry ek toe 'n plek met 'n smal
bruggie wat oor die stroom strek. Ek was half verbaas, want niemand het my al
vertel van hierdie bruggie nie. Ek was tog te bly en begin die bruggie
oorsteek. Toe ek reg in die middel van die bruggie was, het ek 'n beweging uit
die hoek van my oog gewaar en gaan stilstaan. Ek het gedraai in die rigting van
waar ek die beweging gesien het, maar daar was niks. Toe ek terugdraai om
verder te stap, skrik ek vreeslik en vries sommer. Aan die einde van die
bruggie staan 'n klein kort mannetjie. Hy het so punt baard, 'n punt hoed en 2
gepunte skoene. Als in groen, maar darem nie sy baard nie, dit was pikswart
soos sy hare. Die mannetjie staar na my. Hy het nie kwaai gelyk nie, maar ook
nie heeltemal vriendelik nie.
Ek begin toe
stadig agteruit loop en wou net omdraai om weg te hardloop toe die mannetjie
begin praat:"Hallo daar. Is jy oppad na die koning toe? Wat is jou
naam?" Hy het geglimlag en ek het nie meer bang gevoel nie. Ek sê
toe:"My naam is Gelina, maar ek ken nie 'n koning nie. Wie is jy
dan?"
Hy vertel my
toe dat hy 'n Seisj is en dat sy naam Tiolan is. Sy werk was om tower-brue te
bou oor die stroom vir die wat die koning van die Seisje kom sien. Hy het my
gesien loop al met die stroom langs en toe gedink ek moes prinses Somelien wees
wat besoek kom aflê by die koning van die Seisje. Toe het hy die brug gebou dat
ek kon oorkom. Ek het vir Tiolan gevra hoekom hy dan gedink het ek is prinses
Somelien. Hy het verduidelik dat ek vreeslik baie na haar lyk, ek was eintlik
net bietjie te lank om sy te kon wees, maar hy het gedink dat hy hom dalk net
misgis het met my lengte so op 'n afstand.
Ek was nog
stomgeslaan deur hierdie wonderlike ontdekking in die woud. 'n Tower-brug gebou
deur 'n eienaardige Seisj mannetjie. Konings, prinsesse! Wat sou volgende kom?
Tiolan het
my verder begin vertel van die Seisje se land. Wonderlikste diere wat daar woon
en die mooiste riviere en watervalle en dan die ongelooflike paleis van die
koning. Ek wou net begin uitvra oor sy familie toe ek iets hoor agter my. Daar
staan 'n baie kort jong vrou met die pragtigste rok en juwele en skoene. Ek
roep toe sommer uit:"Maar jy moet seker prinses Somelien wees!" Sy
kyk my verbaas aan. Ek was reg gewees. Tiolan het gesê dat hy die prinses
paleis toe moes neem en dat hy nie verder met my kon gesels nie. Ek vra toe of
ek nie dalk mag saamgaan nie. Hy het vinnig daaroor gedink en toe gevroetel in
sy sak. Hy haal toe hierdie silwer ring uit met die pers gesteente. Tiolan sê
toe ek sal die ring moet aansit as ek wil saamgaan. Ek het nie gehuiwer nie en
sit toe die ring aan. Eensklaps begin ek krimp! Toe ek net so lank soos Tiolan
en prinses Somelien was, sê Tiolan:"Nou ja, nou sal die Seisje nie vir jou
skrik nie."
En daar stap ons drie met 'n nou paadjie na die paleis! Prinses
Somelien was sommer baie gaaf en baie slim. Sy was oppad na die koning om hom
te kom raad gee oor die krisis met die motte wat sy vrugteboord so verniel. Om
twee verdere draaie en verby 'n vreeslike hoë waterval het ons afgeloop gekom
op die paleis van die koning van die Seisje. Dit het sewentien klein
uitkyktorinkies gehad en orals was pers gesteentes soos in my ring maar baie
groter. Rondom die paleis het 'n rivier
gevloei met kristalhelder water. Orals was daar baie diere en ook die helderste
visse in die rivier. Ek, Tiolan en prinses Somelien het oor 'n groot brug
gestap en toe staan ons voor die tamaaie deur van die paleis. Ek was bietjie
bang om in te gaan, maar Tiolan het gesê ek hoef vir niks bang te wees nie want
die koning sal definitief van my hou.
Hy was reg.
Koning Jemnir was sommer baie gaaf en het my welkom laat voel. Ons het sommer
dadelik koek en tee gekry en toe vra Jemnir vir my en die prinses of ons van
speletjies hou. Sonder om te wag vir 'n antwoord haal hy daar 'n boks uit 'n
kas en begin als uitpak op die tafel. Dit was 'n ingewikkelde bordspeletjie wat
ek nie kon verstaan nie, so toe het ek maar net die dobbelsteentjie gegooi vir
koning Jemnir en prinses Somelien. Somelien het gewen en toe sê Jemnir ek kan
maar die dobbelsteentjie hou as ek wil.
"Is dit
nou hierdie glas dobbelsteentjie in Ouma se kissie? Was dit dié ene Ouma?"
"Ja
Gouelokkies, dit was die einste een."
"Maar
wat dan van die lepel Ouma? Hoe het Ouma hom gekry?"
"Jong
maar jy is ongeduldig né! Ek gaan nou amper by die lepeltjie uitkom. Maar laat
ek jou eers vertel wat nog gebeur het."
Koning
Jemnir het gevra of ons na sy vrugteboorde kon gaan kyk. Onthou jy prinses
Somelien het mos eintlik gekom omdat
daar so 'n krisis was met die vrugtebome met die motte. Die motte was hierdie
jaar so baie. Hulle lê eiers in die jong vrugte en die mot larwes eet dan hul
pad uit. Dis heel normaal, maar hierdie jaar was daar net te veel motte en
larwes! Prinses Somelien het seker gemaak presies watter soort motte dit was en
toe het sy 'n plan bedink. Sy het vir koning Jemnir verduidelik wat hy moes
doen om 'n spesiale soort voël te lok na die vrugteboorde. Die soort voël se
gunsteling kos was niks anders as die lastige motte nie! Koning Jemnir was
sommer heel in sy skik met die plan. Ons het terug gestap paleis toe en lekker
vrugtesap gedrink om die plan te vier.
Toe het ek
besef dat dit al laat begin raak en dat my ma en pa seker al bekommerd sou
begin raak as ek langer wegbly. Ek het almal bedank vir die heerlike dag en hul
gasvryheid. Tiolan het saam met my gestap tot by die stroom. Daar het hy 'n
nuwe towerbrug gemaak sodat ek kon terugkom in die gewone wereld. Dit was als
so wonderlik.
Ek het die
volgende dag terug gegaan na die plek waar ek laas vir Tiolan gesien het, maar
die brug was weg. Ek het baie keer weer terug gegaan en selfs 'n plek gekry
waar ek oor die stroom kon gaan, maar ek kon nie die land van die Seisje ooit
weer kry nie. Ek was nog altyd spyt dat ek ook nie vir prinses Somelien gevra
het waar sy gebly het nie.
"Nou
het Ouma hul dan nooit weer gesien nie?"
"Nee,
ongelukkig nie. Maar al die herinneringe bly my nou nog by."
"Maar
Ouma, wat dan van die lepeltjie?"
"O ja!
Ek't weer vergeet daarvan. Hierdie lepel was een van 'n stel wat my ma s'n was.
Dit het sommer baie sentimentele waarde vir my so ek bêre dit ook in die
kissie. Dis soos my skatkissie."
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking