(Om na hierdie storie te luister, laai die mp3 gratis af.)
Het jy al ooit gewonder hoekom koning Leeu so baie hare het?
Wel as jy het, dan is jy nie alleen nie. Dit is presies waaroor koning leeu se
seun ook gewonder het. Sy naam was Leonov en hy het nogal gewonder oor baie
dinge.
Leonov het gewonder hoekom gras dan nie vir hom lekker was nie. Samie
die Springbok het dan so baie van gras gehou. Hy het gewonder of hy ook sal kan
boomklim soos Mjanji die apie as hy dalk net baie oefen. Leonov het gewonder of
hy sal kan leer vlieg soos sy vriend Rento die arend. En dan het hy ook
natuurlik gewonder hoekom sy pa Leon dan so baie hare het?
Leonov vra toe maar sy ma daaroor. Sy ma sê toe dat sy pa se
maanhare, dis nou die groot boskaas hare rondom sy pa se nek en kop, hom
koninklik laat lyk. Leonov was nie so seker of dit die regte antwoord was nie,
so toe gaan vra hy vir ou Oom Krokodil ook. Oom Krokkie was al oud en slim so
hy sou sekerlik weet, het Leonov gedink. Oom Krokkie sê toe dat koning leeus
maar nog altyd so gelyk het en dis hoekom dit so moet wees. Weer was Leonov nie
tevrede met die antwoord nie.
Volgende gaan vra hy toe vir sy juffrou by die skool.
Juffrou Angelina die Uil was baie slim. Sekerlik sou sy tog die regte antwoord
ken? Juffrou Angelina het verduidelik dat koning leeus nie altyd so baie hare
gehad het nie, maar dat dit een winter vreeslik koud was en toe het die koning
leeu van daardie jare besluit om serpe te begin dra. Die volgende winter, toe
het die koning leeu sommer sy eie serp gegroei en tadah! so was dit nog altyd
van toe af. Leonov het nogal baie van hierdie verklaring van juffrou Uil gehou
maar dit kon tog nie waar wees nie, of hoe?
Leonov besluit toe om vir sy pa self te gaan vra.
"Pa? Ek het iets waaroor ek nou al lank wonder."
"Maar ek ken jou mos so Leonov. Hahaha! Waaroor wonder
jy vandag?"
"Ag ek het maar net gewonder hoekom pa so baie maanhare
het? Ek het nou al vir ma en vir Oom Krokkie en vir juffrou Uil gevra. Maar ek
dink nie hulle weet regtig nie."
"Seun, ek moet jou sê, ek dink ook nie ek gaan vir jou
'n goeie antwoord kan gee nie. So kom ek vra jou eerder 'n vraag. Hoekom wil jy
so graag weet?"
"Dink pa ek gaan ook eendag sulke maanhare hê?"
"O beslis! Jy is 'n ware leeu en jy gaan koning wees
soos ek...."
Koning leeu sien op Leonov se gesig dat hy nie baie gelukkig
lyk met die antwoord nie.
"En nou Leonov? Ek dog jy sal bly wees oor hierdie
antwoord?"
"Ja... maar pa weet mos... ek hou niks van hare was
nie!"
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking