Woensdag 01 Februarie 2017

'n Verrassing en 'n Toertjie


Carla se Verrassing


  Carla bly saam met haar ma en pa by die see. As jy die voordeur oopmaak en jy loop 5 tree vorentoe: een, twee, drie, vier en vyf -  dan is jou tone tog in die warm wit sand en die wind kielie saggies deur jou hare.

  Carla is baie lief vir die see. Sy bou kastele op die strand en bring sommer haar poppe saam. Sy hardloop deur die vlak water en spring op as die branders aangerol kom. Haar gunsteling ding om te doen is krappies kyk. In die helder poele tussen die rotse loer sy vir die vissies en die slakkies, maar sy raak baie opgewonde as sy ‘n krappie sien. Daar is die mooiste rooies en klein bruinetjies. Party het spikkels op. Party het groot knypers en ander is weer piepklein. Ja, Carla is sommer baie lief vir die see.

  Eendag toe haar pa terug kom van die werk af, dra hy ‘n kartonboks die huis in. Carla is dadelik baie nuuskierig. Wat kan tog in die boks wees? Dalk ‘n nuwe sagte speelding? Of dalk ‘n ....
Maar Carla het nie tyd gehad om verder te wonder nie, want daar spring die boks oop en wat sien sy?

  Dis 'n baba hondjie! Carla kan dit nie glo nie, sy het sommer geskrik toe die klein sjokolade-bruin koppie uitpop by die boks. Hy is tog te pragtig met die kleinste voetjies en kort maar sagte hare wat plekplek nog bietjie donserig is. Sy stert is amper langer as hy en swaai heen-en-weer. Carla tel die hondjie in haar arms en kyk vir haar pa wat met 'n groot glimlag vir haar staan en kyk.

"Dis jou verrassing Carla. Hy is nou joune. Jy moet vir hom 'n naam gee!"

  Carla wou eintlik net op en af spring van opgewondenheid, maar met hondjie in haar arms het sy maar eerder nie gespring nie. Wat sou sy naam wees? Dalk Sjokkie omdat hy soos sjokolade lyk, of wat van Ou Langstert, of miskien Liefie of Drukkies of Voete. Sjoe dis harde werk om vir jou eerste hondjie 'n naam te gee!

  Carla het vir hondjie die strand en die see gaan wys. Toe sy sien hoe geniet hy als net soos sy, toe besluit sy dat hondjie se naam Krappie moet wees!

  Carla en Krappie was sommer dadelik beste vriende. Krappie het orals saam met Carla gegaan en sy was seker hy verstaan wat sy vir hom sê. Saam het hul gehardloop deur die wit sand en saam het hulle neergeval in die vlak water en gemaak of hulle skrik as die branders oor hulle tone rol. En natuurlik het hulle saam gaan krappies kyk!



Leanie Gaan Sirkus Toe


  Elke dag oefen Leanie saam met haar hondjie. Haar hondjie se naam is Theunsie en Theunsie is besig om allerande toertjies te leer. Theunsie is sommer al baie goed met omrol en om op sy agterbene te staan vir 'n kort rukkie. Hy kan ook sy stert op en af swaai op die maat van die musiek wat Leanie vir hom speel. Daar is een toertjie wat Theunsie nog glad nie regkry nie en dis om 'n stukkie biltong wat op sy neus lê in sy mond te vang wanneer Leanie vir hom die teken gee.

  Theunsie is eintlik baie goed daarmee om die biltong op te wip en te vang met sy bek, maar hy kan nooit wag vir die teken nie! Sodra Leanie die biltong neergesit het, hap hy dit onmiddellik!
Leanie is nou al raadop en weet net nie meer wat om te probeer nie. Leanie se mamma sien dat sy so moedeloos lyk terwyl sy Theunsie se koppie vryf.

"Wat makeer dan nou? Jou gesig lyk of iemand jou pop gesteel het? Is daar iets wat jou pla jong?"

  Leanie vertel toe haar ma van hoe Theunsie nie kan wag vir die teken nie en hoe sy nou al als probeer het. Sy glo nie hy sal die toertjie ooit regkry nie! Haar ma staan so bietjie en dink en toe verduidelik sy haar plan.

  Daar is 'n sirkus wat die dorp hierdie hele week besoek. Hierdie sirkus het allerande diere wat toertjies doen. Daar is 'n slang wat uit 'n hoed opstyg. Daar is apies wat op tikmasjiene vir die skares liefdesbriefies tik en dan is daar nog tiere en pikkewyne en tot selfs slakke! En dan die beste van als? Daar is hondjies wat toertjies doen! Of so het tannie Velma vir Leanie se ma vertel nadat sy en haar nuwe kêrel die vorige aand by die sirkus was.

"En wat dink jy beteken dit Leanie?"

"As daar hondjies is wat toertjies doen, dan moet daar mos 'n hondjie-toertjie-leermeester wees!"

"Ja! So ek gaan hulle bel en hoor of ek en jy nie met die hondjie-toertjie-leermeester kan gaan gesels nie."

  Leanie se ma het toe gebel en 'n uur later was sy en Leanie by die groot rooi tent so ent buite die dorp. Die groot leermeester was gelukkig baie gaaf gewees en het uitgevra oor Leanie se hondjie en die toertjies wat hy al kon doen en die waarmee hy nog sukkel. Hy het sommer gelag toe Leanie hom vertel van die gesukkel met die biltong toertjie. Hy het verduidelik dat dit vreeslik baie verwag van ou Theunsie om nie die biltong te eet nie. Toe gee hy vir Leanie die plan om eers met iets anders te begin, iets wat Theunsie nog steeds sal wil eet, maar wat nie so spesiaal lekker vir hom is soos biltong nie. Hy het ook vir haar moed ingepraat en gesê dat as sy geduldig bly oefen saam met Theunsie dat hy nog al die toertjies sal regkry.


  Leanie was tog te bly en wou sommer huistoe gaan om te gaan probeer, maar toe kry sy 'n lekker verrassing. Die leermeester het vir haar en haar ma elkeen 'n kaartjie gegee vir die middagvertoning van die sirkus! Hul het reg voor gesit en hulle monde het oop gehang soos hul al die wonderlike toertjies van die diere en ook die mense van die sirkus bekyk het. Leanie se gunsteling was natuurlik die honde se toertjies! Eendag, eendag het sy gedink, gaan sy ook so 'n spannetjie pragtige toertjie-honde hê en saam gaan hulle oor die hele land reis en mense vermaak so ver hul gaan. Eendag!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking