Dinsdag 31 Januarie 2017

Gouelokkies se Ouma

  Eendag lank lank gelede was daar 'n dogtertjie wat in 'n houthuisie gebly het in die middel van 'n baie groot woud. Haar naam was Gouelokkies en sy was 12 jaar oud. Sy het saam met haar ma en pa, 2 katte en ook haar een ouma gebly. Gouelokkies was vreeslik nuuskierig oor als en het altyd baie vrae gevra. Haar ouma was al baie oud maar sy het altyd geduldig na al Gouelokkies se vrae geluister en probeer antwoorde gee so ver sy kon.


  Eendag het haar ouma 'n klein kissie van hout onder haar bed uitgehaal en vir Gouelokkies nader geroep. Gouelokkies het nog nooit voorheen hierdie kissie gesien nie en wou dadelik als by haar ouma uitvind oor hierdie kissie en natuurlik wou sy bitter graag weet wat binne in is! Haar ouma was nie van plan om haar nuuskierigheid te vreeslik te terg nie en het die kissie oopgemaak. Binne was daar 3 goed gewees: 'n lepel, 'n klein glas dobbelsteentjie en 'n silwer ring met die allermooiste pers gesteente. Gouelokkies het verwonderd staan en kyk na hierdie mooie interessante dinge in haar ouma se kissie. In haar agterkop het sy gehoop haar ouma sou dalk net een van die drie skatte vir haar gee.

  Gouelokkies se ouma sê toe vir haar om langs haar op die bed te kom sit, want sy wou vir haar vertel hoe sy hierdie skatte gekry het. Nou Gouelokkies was mos self gewoond aan avonture. Sy het toe sy 10 was in die woud gestap en per ongeluk die huis van die drie bere ontdek, 'n stoel gebreek, pap geëet en selfs 'n slapie in Bababeer se bed ingepas voor die bere haar ontdek het en sy moes laat spat om daar weg te kom. Sy het nog altyd gewonder hoe haar ouma moes gewees het toe sy nog 'n dogtertjie was. Kon sy dalk ook avonture gehad het lank terug? Sulke skatte in 'n snaakse kissie wat onder die bed weggesteek word, kon tog nie sommer uit die lug geval het nie! Gouelokkies was die ene ore en vol afwagting vir Ouma se storie.

  Toe het Ouma begin vertel: Jy weet Lokkies, ek was ook op 'n slag 12 gewees soos jy nou is. Ek weet dis moeilik om te glo as jy nou na my kyk. Ek kan dit self amper nie eers glo nie! Toe ek 12 was het ek saam met my ma en pa en my ouer boetie gebly in 'n huisie nie baie ver van hier af nie. Ja, ek bly nog my hele lewe in hierdie woud en ek sal dit vir niks wil verruil nie hoor. Nou ek het ook altyd baie vrae gevra soos jy en het graag in die woud gestap om nuwe dinge te ontdek. Eendag besluit ek dat ek graag wil gaan kyk hoe lyk dit anderkant die stroom vanwaar ons water gelei het daardie jare. Die stroom het naby ons huis verby gevloei, maar daar was die stroom nogal diep en breed so ek sou nie daar kon oorgaan nie.

  Ek pak toe maar vir my 'n mandjie met eetgoed en 'n fles vol melk. Ek het geweet ek sou 'n ver ent met die stroom moes afstap om 'n plek te kry waar ek kon oorgaan. Maar ek het nie omgegee vir ver stap nie. Uiteindelik kry ek toe 'n plek met 'n smal bruggie wat oor die stroom strek. Ek was half verbaas, want niemand het my al vertel van hierdie bruggie nie. Ek was tog te bly en begin die bruggie oorsteek. Toe ek reg in die middel van die bruggie was, het ek 'n beweging uit die hoek van my oog gewaar en gaan stilstaan. Ek het gedraai in die rigting van waar ek die beweging gesien het, maar daar was niks. Toe ek terugdraai om verder te stap, skrik ek vreeslik en vries sommer. Aan die einde van die bruggie staan 'n klein kort mannetjie. Hy het so punt baard, 'n punt hoed en 2 gepunte skoene. Als in groen, maar darem nie sy baard nie, dit was pikswart soos sy hare. Die mannetjie staar na my. Hy het nie kwaai gelyk nie, maar ook nie heeltemal vriendelik nie.

  Ek begin toe stadig agteruit loop en wou net omdraai om weg te hardloop toe die mannetjie begin praat:"Hallo daar. Is jy oppad na die koning toe? Wat is jou naam?" Hy het geglimlag en ek het nie meer bang gevoel nie. Ek sê toe:"My naam is Gelina, maar ek ken nie 'n koning nie. Wie is jy dan?"
Hy vertel my toe dat hy 'n Seisj is en dat sy naam Tiolan is. Sy werk was om tower-brue te bou oor die stroom vir die wat die koning van die Seisje kom sien. Hy het my gesien loop al met die stroom langs en toe gedink ek moes prinses Somelien wees wat besoek kom aflê by die koning van die Seisje. Toe het hy die brug gebou dat ek kon oorkom. Ek het vir Tiolan gevra hoekom hy dan gedink het ek is prinses Somelien. Hy het verduidelik dat ek vreeslik baie na haar lyk, ek was eintlik net bietjie te lank om sy te kon wees, maar hy het gedink dat hy hom dalk net misgis het met my lengte so op 'n afstand.

  Ek was nog stomgeslaan deur hierdie wonderlike ontdekking in die woud. 'n Tower-brug gebou deur 'n eienaardige Seisj mannetjie. Konings, prinsesse! Wat sou volgende kom?

  Tiolan het my verder begin vertel van die Seisje se land. Wonderlikste diere wat daar woon en die mooiste riviere en watervalle en dan die ongelooflike paleis van die koning. Ek wou net begin uitvra oor sy familie toe ek iets hoor agter my. Daar staan 'n baie kort jong vrou met die pragtigste rok en juwele en skoene. Ek roep toe sommer uit:"Maar jy moet seker prinses Somelien wees!" Sy kyk my verbaas aan. Ek was reg gewees. Tiolan het gesê dat hy die prinses paleis toe moes neem en dat hy nie verder met my kon gesels nie. Ek vra toe of ek nie dalk mag saamgaan nie. Hy het vinnig daaroor gedink en toe gevroetel in sy sak. Hy haal toe hierdie silwer ring uit met die pers gesteente. Tiolan sê toe ek sal die ring moet aansit as ek wil saamgaan. Ek het nie gehuiwer nie en sit toe die ring aan. Eensklaps begin ek krimp! Toe ek net so lank soos Tiolan en prinses Somelien was, sê Tiolan:"Nou ja, nou sal die Seisje nie vir jou skrik nie." 

  En daar stap ons drie met 'n nou paadjie na die paleis! Prinses Somelien was sommer baie gaaf en baie slim. Sy was oppad na die koning om hom te kom raad gee oor die krisis met die motte wat sy vrugteboord so verniel. Om twee verdere draaie en verby 'n vreeslike hoë waterval het ons afgeloop gekom op die paleis van die koning van die Seisje. Dit het sewentien klein uitkyktorinkies gehad en orals was pers gesteentes soos in my ring maar baie groter.  Rondom die paleis het 'n rivier gevloei met kristalhelder water. Orals was daar baie diere en ook die helderste visse in die rivier. Ek, Tiolan en prinses Somelien het oor 'n groot brug gestap en toe staan ons voor die tamaaie deur van die paleis. Ek was bietjie bang om in te gaan, maar Tiolan het gesê ek hoef vir niks bang te wees nie want die koning sal definitief van my hou.

  Hy was reg. Koning Jemnir was sommer baie gaaf en het my welkom laat voel. Ons het sommer dadelik koek en tee gekry en toe vra Jemnir vir my en die prinses of ons van speletjies hou. Sonder om te wag vir 'n antwoord haal hy daar 'n boks uit 'n kas en begin als uitpak op die tafel. Dit was 'n ingewikkelde bordspeletjie wat ek nie kon verstaan nie, so toe het ek maar net die dobbelsteentjie gegooi vir koning Jemnir en prinses Somelien. Somelien het gewen en toe sê Jemnir ek kan maar die dobbelsteentjie hou as ek wil.

"Is dit nou hierdie glas dobbelsteentjie in Ouma se kissie? Was dit dié ene Ouma?"

"Ja Gouelokkies, dit was die einste een."

"Maar wat dan van die lepel Ouma? Hoe het Ouma hom gekry?"

"Jong maar jy is ongeduldig né! Ek gaan nou amper by die lepeltjie uitkom. Maar laat ek jou eers vertel wat nog gebeur het."

Koning Jemnir het gevra of ons na sy vrugteboorde kon gaan kyk. Onthou jy prinses Somelien het mos eintlik  gekom omdat daar so 'n krisis was met die vrugtebome met die motte. Die motte was hierdie jaar so baie. Hulle lê eiers in die jong vrugte en die mot larwes eet dan hul pad uit. Dis heel normaal, maar hierdie jaar was daar net te veel motte en larwes! Prinses Somelien het seker gemaak presies watter soort motte dit was en toe het sy 'n plan bedink. Sy het vir koning Jemnir verduidelik wat hy moes doen om 'n spesiale soort voël te lok na die vrugteboorde. Die soort voël se gunsteling kos was niks anders as die lastige motte nie! Koning Jemnir was sommer heel in sy skik met die plan. Ons het terug gestap paleis toe en lekker vrugtesap gedrink om die plan te vier.

  Toe het ek besef dat dit al laat begin raak en dat my ma en pa seker al bekommerd sou begin raak as ek langer wegbly. Ek het almal bedank vir die heerlike dag en hul gasvryheid. Tiolan het saam met my gestap tot by die stroom. Daar het hy 'n nuwe towerbrug gemaak sodat ek kon terugkom in die gewone wereld. Dit was als so wonderlik.

  Ek het die volgende dag terug gegaan na die plek waar ek laas vir Tiolan gesien het, maar die brug was weg. Ek het baie keer weer terug gegaan en selfs 'n plek gekry waar ek oor die stroom kon gaan, maar ek kon nie die land van die Seisje ooit weer kry nie. Ek was nog altyd spyt dat ek ook nie vir prinses Somelien gevra het waar sy gebly het nie.

"Nou het Ouma hul dan nooit weer gesien nie?"

"Nee, ongelukkig nie. Maar al die herinneringe bly my nou nog by."

"Maar Ouma, wat dan van die lepeltjie?"

"O ja! Ek't weer vergeet daarvan. Hierdie lepel was een van 'n stel wat my ma s'n was. Dit het sommer baie sentimentele waarde vir my so ek bêre dit ook in die kissie. Dis soos my skatkissie."

  Gouelokkies se Ouma het met Gouelokkies se volgende verjaarsdag die kissie met die drie items vir Gouelokkies gegee. Sy het geweet dat sy dit ook mooi sou bewaar. Gouelokkies het ook soms langs die stroom gaan soek of sy nie dalk 'n Seisj sien nie of tekens van 'n towerbrug, maar daar was niks. Al teken dat daar iets spesiaals daar naby die stroom was, het sy eendag ontdek toe sy die ring met die pers gesteente aangesit het. Sy het sowaar ook gekrimp soos wat haar Ouma vertel met haar gebeur het! Ai, hoe lekker sou dit nie wees as sy ook vir prinses Somelien, vir Tiolan en koning Jemnir, die koning van die Seisje kon ontmoet nie! Miskien tog eendag?

Maandag 30 Januarie 2017

Hoekom het koning Leeu dan so baie hare?

  (Om na hierdie storie te luister, laai die mp3 gratis af.)

  Het jy al ooit gewonder hoekom koning Leeu so baie hare het? Wel as jy het, dan is jy nie alleen nie. Dit is presies waaroor koning leeu se seun ook gewonder het. Sy naam was Leonov en hy het nogal gewonder oor baie dinge.

  Leonov het gewonder hoekom gras dan nie vir hom lekker was nie. Samie die Springbok het dan so baie van gras gehou. Hy het gewonder of hy ook sal kan boomklim soos Mjanji die apie as hy dalk net baie oefen. Leonov het gewonder of hy sal kan leer vlieg soos sy vriend Rento die arend. En dan het hy ook natuurlik gewonder hoekom sy pa Leon dan so baie hare het?
  
  Leonov vra toe maar sy ma daaroor. Sy ma sê toe dat sy pa se maanhare, dis nou die groot boskaas hare rondom sy pa se nek en kop, hom koninklik laat lyk. Leonov was nie so seker of dit die regte antwoord was nie, so toe gaan vra hy vir ou Oom Krokodil ook. Oom Krokkie was al oud en slim so hy sou sekerlik weet, het Leonov gedink. Oom Krokkie sê toe dat koning leeus maar nog altyd so gelyk het en dis hoekom dit so moet wees. Weer was Leonov nie tevrede met die antwoord nie.

  Volgende gaan vra hy toe vir sy juffrou by die skool. Juffrou Angelina die Uil was baie slim. Sekerlik sou sy tog die regte antwoord ken? Juffrou Angelina het verduidelik dat koning leeus nie altyd so baie hare gehad het nie, maar dat dit een winter vreeslik koud was en toe het die koning leeu van daardie jare besluit om serpe te begin dra. Die volgende winter, toe het die koning leeu sommer sy eie serp gegroei en tadah! so was dit nog altyd van toe af. Leonov het nogal baie van hierdie verklaring van juffrou Uil gehou maar dit kon tog nie waar wees nie, of hoe?

  Leonov besluit toe om vir sy pa self te gaan vra.

"Pa? Ek het iets waaroor ek nou al lank wonder."

"Maar ek ken jou mos so Leonov. Hahaha! Waaroor wonder jy vandag?"

"Ag ek het maar net gewonder hoekom pa so baie maanhare het? Ek het nou al vir ma en vir Oom Krokkie en vir juffrou Uil gevra. Maar ek dink nie hulle weet regtig nie."

"Seun, ek moet jou sê, ek dink ook nie ek gaan vir jou 'n goeie antwoord kan gee nie. So kom ek vra jou eerder 'n vraag. Hoekom wil jy so graag weet?"

"Dink pa ek gaan ook eendag sulke maanhare hê?"

"O beslis! Jy is 'n ware leeu en jy gaan koning wees soos ek...."

  Koning leeu sien op Leonov se gesig dat hy nie baie gelukkig lyk met die antwoord nie.

"En nou Leonov? Ek dog jy sal bly wees oor hierdie antwoord?"

"Ja... maar pa weet mos... ek hou niks van hare was nie!"

  Leonov en sy pa het lekker saam gelag oor hierdie een! En wat van julle? Hou julle van hare was?